Die NCR het ‘n boekie vir verbruikers in al elf Suid Afrika se amptelike tale (Afrikaans, Tsonga, Engels, IsiZulu, SiSwati, Sepedi, Sesotho, Tswana, Ndebele, Venda en IsiXhosa) gepubliseer en vrygestel. Dit bevestig wat ons tydens seminare beklemtoon het dat die NCR ’n baie aktiewe rol gaan speel in die opleiding & opvoeding van verbruikers, en dat hulle geen koste gaan ontsien om verbruikers oor hulle regte onder kredietooreenkomste in te lig nie.
Die Afrikaanse weergawe se titel lui, “DIE NASIONALE KREDIETWET, 2005, Alles wat u as verbruiker van die Nasionale Kredietwet moet weet, Volume 1: 2007.”
‘n Uittreksel uit die voorwoord van die Afrikaanse boekie lui as volg:
Hierdie boekie dien as ‘n gids tot die Nasionale Kredietwet 34/2005 (NKW),waarna ook verwys word as ‘Die Wet’. Dit is gerig op persone wat krediet opneem in die vorm van ‘n lening, huurkoop, afbetalingsooreenkoms, kredietkaart, of die verkryging van goedere of dienste op krediet by ‘n kredietverskaffer. Dit kan verder ook deur persone of organisasies wat as krediettussengangers vir verbruikers optree, soos adviessentrums, vakbond amptenare en provinsiale verbruikersgidse, gebruikword. Dit is ‘n poging om die bepalings van Die Wet, soos dit op verbruikers van toepassing is, te vereenvoudig. Die boekie is nie regsbindend nie. Indien daar enige twyfel bestaan oor die bedoeling of toepassing van enige van die bepalings van Die Wet, moet die betrokke bepalings en die regulasies geraadpleeg word.
Die boekie bestaan uit 12 hoofstukke wat die volgende aspekte dek:
- Dispute en klagtes
- Afdwinging van die Nasionale Kredietwet
- Agtergrond tot die Nasionale Kredietwet
- Verbruiker se kredietregte
- Kredietooreenkomste
- Bemarkingspraktyke
- Koste
- Beëindiging, oorgawe en vroeë aflossing van kredietooreenkomste
- Wanprestasie en skuldafdwinging
- Skuldvoorligting
- Kredietburo’s en kredietinligting
- Ander nuttige kontakte
Behalwe dat die boekie baie nuttig vir verbruikers is, kan dit net so nuttig vir kredietverskaffers wees om te lees. Die inligting daarin vervat is omvangryk, dog bondig en eenvoudig uiteengesit. Vir diegene wat ons seminaar oor die Nasionale Kredietwet bygewoon het sal die inligting nie nuut wees nie, alhoewel dit goed kan wees om daaroor te “scan” om te sien waarop klem gelê word. Verder is dit ook duidelik dat die boekie verbruikers in staat sal stel om baie na aan die vlak van kennis met betrekking tot die Kredietwet te kom as wat kredietverskaffers is. [Natuurlik verbruikers wat die moeite gaan doen om dit te bestudeer]. Nodeloos om te sê hoe belangrik dit vir kredietverskaffers is om die Wet en Regulasies te ken, te kan interpreteer en te kan toepas! Dit sal ‘n uiterste verleentheid wees om deur ‘n verbruiker ore aangesit te word omdat hy/sy die Wet beter ken…
Hierdie publikasies is op die NCR se webblad beskikbaar, en kan daar afgelaai word.

No user commented in " Die NCR se Verbruiker Boekie (”Consumer Booklet”) "
Follow-up comment rss or Leave a TrackbackLeave A Reply